Skip to content

Vanuit die hart

Beste vennoot en vriend

Ek is weer uitgedaag met ons verantwoordelikheid om ʼn stem vir die vervolgde Kerk te wees.

Uitgedaag omdat ons geloofsfamilie wat van geweld vlug, se behoeftes kompleks en groot is. Ontworteling vind steeds plaas in baie lande, insluitende Mosambiek, Mianmar, Mexiko en Turkye. Slegs in sub-Sahara Afrika word meer as 16 miljoen Christene weens hul geloof ontwortel in lande soos Soedan, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Nigerië.

In Junie herdenk ons Wêreldvlugtelingdag en Jeugdag. Dié oomblikke stel ons in staat om na te dink oor die jeug en kinders wat onder diegene is wat vir hul lewens vlug. Ontworteling, tesame met geweld en konflik, dra by tot hul kwesbaarheid.

Verlede jaar het ons vlugtelingverslag, “No road home”, die lot van ontwortelde gelowiges in Nigerië uitgelig. Die situasie is besonder verwoestend vir jeugdiges en kinders, aangesien toegang tot onderwys gedurende dié belangrike tyd in hul lewens ontwrig word of nie bestaan nie. Kinders en jeugdiges se kwesbaarheid word vererger weens die gevare van mensehandel of omdat hulle met geweld geteiken word.

Die gebrek aan toegang tot onderwys, opleiding en ʼn veilige omgewing lei tot ʼn onsekere toekoms vir hulle as volwassenes. Wat maak ʼn verskil? Om samesyn te vind, praktiese hulp en die wete dat hulle nie vergeet word nie.

Die verantwoordelikheid om te bid, te praat en vir die Liggaam van Christus te sorg, is nie ʼn las nie, maar ʼn uitnodiging, en jy word uitgenooi.

Jou stem in gebed is soos soet wierook voor die Here. Jou stem verhoog bewustheid oor hul situasie. Jou stem kan hulle verteenwoordig in die burgerlike samelewing, regering, media of jou plaaslike kerk, wat ʼn verskil in hul lewens maak.

Sluit asseblief by my aan om namens ons vervolgde broers en susters na God te roep, en om hoop aan hulle te bied deur jou talente en hulpbronne te gebruik om hulle te ondersteun en te dien.

Vrede

Lynette Leibach

Uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika

Back To Top
Soek