Skip to content

Leef deur alles te verloor

Ek moes ʼn paar jaar gelede uit die ou plek wat ek gehuur het, trek. Dit was vir my bittersoet. Dit was soet omdat dit die deur vir nuwe geleenthede oopgemaak het, maar bitter omdat dit gevoel het of ek ʼn deel van my lewe verloor wat ek baie liefgehad het as gevolg van al die herinneringe wat aan daardie plek gekoppel is. Al was ek die een wat gekies het om dié plek te verlaat, was dit steeds moeilik.

Verandering is nie maklik nie.

Ongeag of dit ʼn verandering is in waar jy woon, ʼn verandering in jou werk of die verlies van iemand in jou lewe, dit alles kom met ʼn soort verlies, wat moeilik kan wees.

Ons het almal veranderings in ons lewens teëgekom en die emosies wat daarop gevolg het …

Nostalgie
Verligting
Hartseer
Opgewondenheid
Ontkenning
Hoop
Hopeloosheid

En die lys gaan aan.

Dit laat my dink aan ons vervolgde familie, wie se lewens omvergewerp word weens vervolging, diskriminasie, geweld en konflik.

Kan jy jou voorstel deur watter emosies hulle moet gaan? Nie een daarvan is goed nie. Daar is geen ruimte vir nostalgie wanneer jy uit jou huis gedwing word nie. Dit is nie bittersoet nie – dit is net bitter.

Baie van hulle is tans uit hul tuislande ontwortel weens vervolging, konflik en geweld.

Volgens die 2024 Wêreldwye Verslag oor Interne Ontworteling het 68,3 miljoen mense aan die einde van 2023 weens konflik en geweld in interne ontworteling geleef.1

Miljoene het alles verloor: Hul gesinne, huise, besittings, gemeenskap, erfenis, onderwys, gesondheid, lewensbestaan en sekuriteit – dinge wat ons so maklik as vanselfsprekend kan aanvaar.

Hulle is nie net uit hul huise gedryf nie, maar ook gedwing om saam met die verlies te leef terwyl die lewe aangaan.

Dit is nader as wat ons dink …

Net 330km van Suid-Afrika af ontvou ʼn ontwortelingskrisis in naburige Mosambiek, met baie mense wat nou in hervestigingskampe woon. Die geweld wat in 2017 in Cabo Delgado ontvou het, het ʼn massiewe humanitêre krisis geskep.

Volgens ons plaaslike vennote het die herhalende aanvalle baie van die ontworteldes gedwing om los werkies te doen en van enige kos te leef wat hulle kan kry. Geopende Deure se veldvennote sê baie van die ontworteldes is met gesondheidsprobleme gediagnoseer wat met hul bloed verband hou weens die kos wat hulle gedwing word om te eet.

Die geestelike en emosionele impak van hierdie aanvalle op die Kerk is ook verlammend. Talle pastore het in die verlede met ons vennote gedeel dat hulle nie in staat is om die ontwortelde Kerk te bedien nie, aangesien hulle ook sukkel om die aanvalle te verwerk.

Verlede jaar se aanvalle het militêre teikens getref, maar die Islamitiese Staat-provinsie het ook kerke en Christene aangeval.

“In Mosambiek is Christene teikens van ernstige vervolging, baie gelowiges word verkrag en doodgemaak, verskeie kerke en huise word vernietig,” sê pastoor Mario*, ʼn Geopende Deure-vennoot.

Maar dit gebeur nie net op ons drumpel nie. Regoor die wêreld het verskeie ontwortelingskrisisse ontvou.

In Mianmar word die burgeroorlog as ʼn instrument van vervolging gebruik, wat Christelike gemeenskappe vernietig en gelowiges uit hul huise verdryf.

Gelowiges word al lankal in Mianmar vervolg, maar die staatsgreep in 2021 het hul lyding vererger. Militêre lugaanvalle het Christelike gemeenskappe en kerke vernietig en duisende mense doodgemaak. Ons skat dat sowat 40 000 Christene ontwortel is of gedwing word om weg te kruip.

“Ons hardloop weg, en soms kruip ons omdat hulle op ons skiet. Soms hardloop ons die hele week op soek na veiligheid en oorlewing terwyl die bombardering nog agter ons aan die gang is,” deel pastoor Yang*, wat weens die oorlog telkens saam met sy gesin uit hul huis verdryf is.

Intussen is Christene ook in Mexiko ontwortel, maar weens ʼn heeltemal ander rede. Dwelmkartelle dwing gelowiges tot ontworteling.

Volgens die navorsingsdepartement van Geopende Deure Mexiko is 57 voorvalle wat deur georganiseerde misdaad gemotiveer is verlede jaar in net vyf maande aangeteken. Dit beklemtoon die kwesbaarheid van gelowiges in die aangesig van die groeiende golf van geweld in die land.

Hierdie situasie bedreig nie net gelowiges se fisiese veiligheid nie, maar ook hul vryheid om hul geloof in ʼn toenemend vyandige omgewing te beoefen. Aangesien hul bedieningswerk op kinders en enkelmoeders fokus, staar hulle groter risiko’s in die gesig omdat die kartelle kinders sien as potensiële kliënte en toekomstige rekrute om die geledere van georganiseerde misdaad te versterk.

“Ons word dopgehou omdat die kinders wat ons bedien as ʼn moontlike menslike hulpbron vir die kartelle beskou word, so hulle kan die onderwysersgroep as ʼn bedreiging vir hul belange sien,” sê Marcos, ʼn sendeling in die streek.

In die Midde-Ooste, wat die tweede grootste ontwortelingskrisis ter wêreld het, vlug talle Iranse Christene elke jaar vir die onderdrukkende Islamitiese regime. Hoewel hulle ernstige vervolging en tronkstraf vryspring, is die lewe as vlugteling in die streek moeilik en kan dit hopeloos lyk.

Kouroush* het ʼn huiskerk gevind en uiteindelik ʼn leier geword, waarvoor hy in die tronk was. Tog het die tyd in die tronk hom nie afgeskrik nie. Ná sy vrylating het hy sy bediening voortgesit, maar die geheime diens het hom weer opgespoor. Kouroush het geen ander opsie gehad as om sy geliefde land te verlaat en na Turkye te vlug nie.

Wat sou Kouroush gehelp het, wat hom in ʼn nuwe land bevind het?

ʼn Veilige plek. ʼn Plek om weer tuis te voel en met mense te praat wat sy taal praat, ʼn plek om sy storie te deel en hulp te kry. ʼn Plek waar hy sy honger na die Woord van God kon stil. “En ek is nie die enigste een nie,” sê Kouroush. “Om só ʼn plek te vind, is een van die grootste uitdagings vir enige Iranse vlugteling.

“Dit was ʼn soort vrees, gemeng met hartseer en verwarring oor hoekom ek hier was: Ek het alles verloor. My werk, my familie, my land.”

Kouroush se woorde is dié wat deur miljoene ontworteldes regoor die wêreld gevoel word, insluitend ontwortelde Christene. Ongeag of hulle in hul eie land of ʼn vreemde een ontwortel is, hulle het alles verloor en die lewe is onseker.

Wat beteken dit vir ons?

Dit is maklik om te dink dit is ʼn “hulle”-probleem. Maar dit is ʼn “ons”-probleem. Hulle lyding is ʼn herinnering aan die kwesbaarheid wat in ons almal bestaan.

Ek verstaan dat die lees van hul stories jou kan laat afskakel om die harde werklikheid van pyn en vervolging te vermy.

Ek erken dat dit soms vir my oorweldigend is om dag in en dag uit met hul stories te werk. En soms het ek toegelaat dat my eie besige lewe en bekommernisse my gedagtes verteer, wat dit makliker maak om na binne terug te trek eerder as om die ongemak van hul lyding te trotseer.

Here, vergewe my vir my droë oë – vir die kere wat ek van my broers en susters se pyn weggedraai het, en die ongemaklike waarheid vermy het dat hulle lot ons gedeelde kwesbaarheid weerspieël.

Die realiteit is dat natuurrampe, gewapende konflik en politieke onstabiliteit enigiemand op enige plek en enige tyd kan raak.

Dit is nêrens veilig nie.

Ons almal het ʼn rol om in ons medemens se lewens te speel. En nog meer so wanneer dit diegene binne die Liggaam van Christus is wat direk deur hierdie krisis geraak word.

Ons word geroep om in hulle lyding te deel …

Vir diegene binne die Liggaam van Christus gaan die ontwortelingskrisis nie net daaroor om fisiese hulp aan te bied nie – dit gaan daaroor om in solidariteit en gebed te staan met ons broers en susters wat swaarkry. Ons word geroep om saam te treur met diegene wat treur en mekaar se laste te dra (Romeine 12:15, Galasiërs 6:2).

Wanneer een deel van die Liggaam ly – hetsy in naburige Mosambiek of elders – deel ons almal in daardie lyding.

Die lewe is onseker, en niemand is immuun teen die lewe se skielike veranderings nie. Dit is dalk ons wat eendag die gebede en hulp van medegelowiges in Mosambiek en ander wêrelddele nodig het.

Laat ons voortgaan om getrou te wees in ons liefde en ondersteuning vir diegene binne die Liggaam van Christus, terwyl ons ook gewortel bly in die ewige hoop wat Christus voorsien.

Saam kan ons Christus se hande en voete wees in ʼn gebroke wêreld.

*Name verander weens sekuriteitsredes.

Bron: 12024 Global Report on Internal Displacement, Internal Displacement Monitoring Centre.

Walk with them

Vervolgde Christene leef tans in vrees omdat hulle uit hul huise gedwing is. Dit is nêrens vir hulle veilig nie. Dink jou in hoe dit is om te vlug, nie net een keer nie, maar oor en oor. Ons broers en susters het jou bystand broodnodig..

Ons doelwit is om R125 000 vir ontwortelde gelowiges in te samel..

Is jy bereid om die pad van hoop en genesing saam met hulle te stap?

Elke R410 kan noodskuiling gee aan ʼn Christen wat van sy huis verdryf word.
Elke R680 kan ʼn ontwortelde gelowige onderhou met kos, klere en mediese sorg.
Elke R1 470 kan ʼn maand se onderwys aan ʼn ontwortelde kind gee, om vir hulle ʼn toekoms te gee.

Back To Top
Soek