‘n Kerk op vlug: Waar is God?
Grond is nie net bloot ʼn hulpbron nie – dit is sterk verbind aan talle gemeenskappe regoor die wêreld se identiteit, kultuur en oorlewing. Vir diegene wat in lande op die Wêreldwaarnemingslys woon, verteenwoordig grond meer as net ʼn fisiese ruimte – dit is die hart van kulturele identiteit, ekonomiese voorsiening en sosiale samehorigheid. Die verlies van grond, hetsy deur konflik of godsdienstige vervolging, kan daartoe lei dat hele gemeenskappe ernstig gedestabiliseer word. Dit is dikwels die begin van ʼn langer, ontstellende reis gevul met verlies en onsekerheid. – Geopende Deure Voorspraakverslag 2025
Volgens die Moniteringsentrum vir Interne Ontworteling het interne ontworteling in 2023 nuwe rekords opgestel, met 75,9 miljoen mense wat in interne ontworteling woon. Meer as 68 miljoen mense leef in interne ontworteling weens konflik en geweld. Dié syfer het in vyf jaar met 49% toegeneem, aangevuur deur toenemende en uitgerekte konflik in Ethiopië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Soedan en Oekraïne.¹
Sub-Sahara Afrika huisves streeksgewys 46% van die wêreld se interne ontwortelde mense (IDP’s), volgens die Wêreldwye Verslag oor Interne Ontworteling 2024.
Volgens die Geopende Deure Voorspraakverslag het die Sahel-streek ʼn brandpunt geword vir gedwonge ontworteling, wat deur ʼn kombinasie van ekstremistiese geweld, omgewingskrisisse en sosio-politieke onstabiliteit gedryf word. Ontworteling het die afgelope jare ongekende vlakke bereik, wat kwesbare bevolkings, insluitend Christelike gemeenskappe, buitensporig beïnvloed.
Twee van die top 5 lande met die grootste ontwortelingsyfers is in sub-Sahara Afrika.
Die gevegte wat in April 2023 in Soedan begin het, het plek gemaak vir die wêreld se grootste ontwortelingskrisis – en gevolglik ook die wêreld se grootste hongersnoodkrisis. Die situasie lyk hopeloos.
Ongelukkig vind ʼn ontwortelingskris regoor ons kontinent plaas. Alhoewel die rolspelers, agtergrond en vervolging-storielyn, wat dikwels ontworteling in dele van sub-Sahara Afrika dryf, verskil, is die slotsom grootliks dieselfde.
“Terwyl ons nou praat, is ons regtig honger. Ons het kos nodig . . . Al die kinders hier, hulle is almal honger . . . Dit is honger wat hulle hierheen gebring het,” deel Alia*, ʼn ontwortelde ma in Soedan.
Die situasie is benard en wanneer enige buitestander die kamp besoek, is daar desperate hoop dat die besoekers kos gebring het.
Dit kan maklik voel asof hulle nie net deur die wêreldwye Kerk in die steek gelaat is nie, maar ook deur God. Te midde van die lyding kan dit aanloklik wees om te vra: “Waar is God?”
Swaarkry en tragedie is groot geheimenisse wat ons nie begryp nie. Beteken dit dat God ons verlaat het of nie vir ons pyn omgee nie? Satan wil beslis graag hê dat ons dit moet glo.
Tog is die waarheid dat God nie ver is nie. Hy is nie losstaande van ons pyn nie. Die Verlosser van die wêreld ly saam met ons, insluitende diegene wat ontwortel is.
Psalm 34:17-18 herinner ons:
Die gesig van die Here
is gerig teen kwaaddoeners
om hulle gedagtenis uit te roei
van die aarde af.
Regverdiges roep om hulp
en die Here luister,
uit al hulle benoudhede red Hy hulle.
In ons donkerste oomblikke kom Hy nader aan ons en bied Hy aan ons vertroosting en vrede. Maar ook hoop waar daar nie behoort te wees nie.
Christus is immers vertroud met ons menslike lyding, soos getoon in Jesaja 53:3-4: “Hy is verag, deur mense verlaat, ʼn mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie ʼn mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het Hom nie geag nie. Nogtans, ons siektes, Hy het dit gedra, en ons smarte, Hy het dit op hom gelaai. Maar ons het Hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder.”
Ons hou dus vas aan wat ons weet waar is: “God is vir ons ʼn skuilplek en ʼn bron van krag;
as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.” – Psalm 46:2
“Ons het alles aan God gegee, die Skepper van hemel en aarde. Ons hoop dat God seëninge sal bring. Ons bid ook vir jou, dat God jou sal gebruik om ons te help, want ons is verslaan en ons harte is gebroke,” sê Alia.
So waar is God?
Hy is altyd by ons en bring lig in die donkerste plekke en omstandighede. Ons kan vertrou dat Hy by ons is, ongeag wat ons in die gesig staar.
Prys God vir ons vervolgde familie wat te midde van sulke moeilike omstandighede aan Hom bly vashou. Laat ons namens ons broers en susters tot God uitroep – dat hulle ten spyte van hul haglike omstandighede Christus se Naam sal verkondig en dat Hy by hulle sal wees wanneer hulle vlug, tydens ontworteling en te midde van vervolging.
*Naam verander weens sekuriteitsredes.
Bron: 12024 Global Report on Internal Displacement, Internal Displacement Monitoring Centre.
Walk with them
Vervolgde Christene leef tans in vrees omdat hulle uit hul huise gedwing is. Dit is nêrens vir hulle veilig nie. Dink jou in hoe dit is om te vlug, nie net een keer nie, maar oor en oor. Ons broers en susters het jou bystand broodnodig..
Ons doelwit is om R125 000 vir ontwortelde gelowiges in te samel..
Is jy bereid om die pad van hoop en genesing saam met hulle te stap?
Elke R410 kan noodskuiling gee aan ʼn Christen wat van sy huis verdryf word.
Elke R680 kan ʼn ontwortelde gelowige onderhou met kos, klere en mediese sorg.
Elke R1 470 kan ʼn maand se onderwys aan ʼn ontwortelde kind gee, om vir hulle ʼn toekoms te gee.