Vanuit die hart
Liewe vennoot en vriend
Vervolging neem voortdurend toe, maar dit behoort nie ʼn verrassing te wees nie, gegewe dit wat 1 Petrus 4:12 sê: “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.”
Hierdie verbysterende syfers en realiteit van geweld wat ons geloofsfamilie ervaar, is kommerwekkend. Dié tendense toon ʼn toename in die aantal Christene wat geraak word en in die vlakke van vervolging.
Dis hoekom ek dit nodig vind om die oorkoepelende Bybelse siening in gedagte te hou wanneer ek met dié inligting besig is. “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie” (Efesiërs 6:12). Dit is teen Satan, wat wil vernietig en oorheers.
Dit kan ontmoedigend wees om na die Wêreldwaarnemingslys se statistieke te kyk, maar om terug te keer na 1 Petrus 4: “Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle oorloop van vreugde by Sy wederkoms heerlikheid” (vers 13).
Ondanks vervolging word ons in dié lewe geroep om God te eer en te gehoorsaam. Só ek daag jou en
myself dié jaar uit om bedag te wees op ons denke en optrede wanneer ons voor versoekings te staan kom. Só kan ons God eer en gehoorsaam.
Laat ons ook bid vir ons geloofsfamilie wat vervolging in die gesig staar. Kom ons kyk waar anders die Here ons vir Sy Koninkryk kan gebruik sodat ons kan deel in die verhaal van ons vervolgde familie. Saam met hulle kan ons help om die Koninkryk van God in van die donkerste plekke uit te brei.
Vrede