Vyf maniere om vir Mianmar te bid
In die nasleep van twee aardbewings in Mianmar op Vrydag, 28 Maart, doen Christene in dié land ʼn beroep op hul wêreldwye Kerkfamilie om saam met hulle te bid.
Geopende Deure-vennote deel alreeds hoe belangrik jou gebede is om gelowiges in Mianmar te help weet dat hulle nie alleen is nie. “Wanneer ek gelowiges ontmoet, deel ek met hulle dat ons nie alleen is nie, al is dinge verskriklik en is dit maklik om geïsoleer te word, en dat mense regoor die wêreld vir ons bid,” sê Daisy Htun*, ʼn plaaslike Geopende Deure-vennoot.
Daw Sun*, ʼn weduwee wat saam met haar twee kinders in Mianmar woon, slaap nou op straat, tussen die tienduisende mense wat geraak is deur verlede Vrydag se verwoestende aardbewings, waarin meer as 2 000 mense dood is en nog duisende beseer is.
“Ek het die bewing gevoel en paniekbevange saam met my kinders uitgestorm. Ons het binne ʼn paar minute gesien hoe ons huis verbrokkel. Ons het hulpeloos gekyk hoe dit voor ons oë inmekaarsak,” het sy met ʼn Geopende Deure-vennoot gedeel.
Hier is vyf maniere waarop jy kan bid:
1. Bid vir beskerming en vertroosting vir die mense van Mianmar
Meer as 2 000 mense is dood as gevolg van die aardbewings, wat ook die buurlande, Thailand en China, geraak het. Nog duisende is beseer, en selfs meer moes toekyk hoe hul huise, ondernemings, hospitale, kerke en ander geboue vernietig is. “Daar is geen elektrisiteit nie, en die watertoevoer funksioneer nie. Dit word ʼn uitdaging om selfs toilet toe te gaan,” vertel ʼn plaaslike Christen.
Bid asseblief vir almal wat oor hul geliefdes rou, vir dié wat uit hul huise ontwortel is en vir dié wat bang is. Bid dat daar geen verdere ongevalle sal wees nie en dat die water, elektrisiteit en Wi-Fi herstel sal word sodat mense kan kommunikeer en toegang tot veilige sanitasie het.
2. Bid vir Geopende Deure-vennote en hul werk
Daar was tot dusver geen berigte van Geopende Deure-vennote of hul gesinne wat in die aardbewings benadeel is nie. Dank God vir hul veiligheid. Bid asseblief vir vennote se projekte in die streek en vir beskerming oor diegene wat hulle oor baie jare ondersteun en aangemoedig het. Vra God dat hulle programme hervat kan word wanneer dit veilig is om dit te doen.
3. Bid vir Christene wat alreeds ontworteling en vervolging in die gesig staar
Selfs voor die aardbewing is duisende mense in Mianmar ontwortel weens die militêre staatsgreep in 2021. Christene is onder dié wat ontwortel is, beide deur konflik en vervolging, en Christelike gemeenskappe word veral deur beide die militêre regering en opponerende rebellegroepe geteiken.
“Dit kan ʼn omvattende uitwerking hê op die Christene in Mianmar wat alreeds deur die oorlog geraak is en ontwortel is,” verduidelik Daisy. “Hulle het alreeds die staatsgreep beleef, daar is ekonomiese swaarkry en nou het ʼn natuurramp hulle getref.”
Bid asseblief dat hulle veerkragtigheid en krag van God sal ontvang en Sy goedhartigheid en teenwoordigheid sal ervaar.
4. Bid dat die Kerk in Mianmar sout en lig sal wees
Daisy sê: “Bid vir die kerke in Mianmar in gebiede wat nie geraak is nie – dat hulle deernis sal hê en in staat sal wees om ʼn helpende hand uit te reik na hul broers en susters wat deur hierdie aardbewings geraak is.”
Terwyl die land van die trauma herstel, vra dat God Sy kinders sal gebruik om sout en lig te wees in die aangesig van duisternis. Mag mense hulle vriendelikheid en hoop sien en erken dat hulle die waarheid van die Evangelie demonstreer. Bid dat die Kerk in Mianmar Jesus se hande en voete sal wees in reaksie op hierdie ramp.
5. Bid vir wysheid en hulpbronne om die land te herbou
Selfs in die nasleep van die aardbewings was daar berigte van die militêre junta wat voortgaan om hul eie mense te bombardeer. Vra vir vrede in Mianmar en dat alle geweld beëindig sal word. Bid dat die nasie se leiers wysheid en regverdigheid sal hê in hul reaksie op die verwoesting, en dat hulle hul hulpbronne en enige buitelandse hulp regverdig sal gebruik om die land vir al sy burgers te herbou.
Dankie vir jou volgehoue gebede. Dit is broodnodig vir ons broers en susters in Mianmar en die wyer streek.
*Name verander om identiteit te beskerm.